Logo
Suidooster TX change Slim BB
web uni tv guide

Suidooster

144Drama13

Dis tyd vir drama op kykNET&kie

Nuus
17 Maart 2017
Drie nuwe dramas sal in April op kykNET&kie uitgesaai word. Die 18:00-tydsgleuf op weeksdae sal deur Vlug na Egipte gevul word, maar kykers sal steeds Suidooster om 20:00 kan kyk.
Suidooster Group

kykNET&kie-kykers vra gereeld vir meer Afrikaanse dramas en daarom bring ons vir julle drie nuwe dramas net in April: Vlug na Egipte, Terug na Egipte en Die Boekklub 1. Een van die beste én gewildste Afrikaanse dramas van die afgelope twee jaar, die bekroonde Vlug na Egipte, word vir die eerste keer vanaf 20 Maart op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) uitgesaai. Terug Na Egipte volg direk daarna vanaf 10 April en Die Boekklub 1 vanaf 12 April om 20:30. As jy nog nie die geleentheid gehad het om hierdie besondere reekse te sien nie, is dit nou jou kans.

Die dramas sal van Maandag tot Donderdag om 18:00 uitgesaai word en vir dié van julle wat graag julle gunsteling-reekse in groot porsies geniet, is daar ’n omnibus op Sondagaande om 20:00. Dié 18:00-tydsgleuf op weeksdae is oorspronklik deur Suidooster gevul, maar nou kry jy die geleentheid om beide Vlug na Egipte om 18:00 en dan Suidooster om 20:00 te kyk. Dubbele kykgenot! Suidooster sal egter steeds om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) te sien wees. Dit beteken minder herhalings en meer vars inhoud om jouself in te verlustig!

Vlug Na Egipte, uit die pen van die gesoute draaiboekskrywer Paul C. Venter, is ’n moderne, eg-Suid-Afrikaanse storie oor die wedersyds-afhanklike saamwoon van ’n klein gemeenskappie wie se lewens onlosmaakbaar vervleg is, en hoe nuwe intrekkers (die ‘inkommers’) in so ’n mate kom peuter met die bande wat die gemeenskap bind, dat hulle aard en voortbestaan onherroeplik verander.

Die reeks boei met intriges vol kinkels en geloofwaardige karakters, wat vertolk word deur die room van ons land se akteurs. Vlug na Egipte het ’n SAFTA gewen en is in 2015 vir vyf Tempo-toekennings genomineer – een vir TV-reeks van die Jaar en twee elk in die Akteur van die Jaar- en Aktrise van die Jaar-kategorië. In laasgenoemde kategorie het Leandie du Randt met die louere weggestap.