Logo

Kokkedoortjie: Daar lui die skoolklok

Nuus
19 April 2017
Vir Ian het die skoolklok finaal gelui, en het hy die eerste Kokkedoortjie geword om sy sleutel op te hang.
Kokkedoortjie Ep3 Christian

FOTO: Christian se toebroodjie

“Dit was baie lekker om op Kokkedoortjie te wees, en dit was ook ’n groot voorreg,” sê Ian vandag aan die einde van sy avontuur op die stel van dié werklikheidsreeks vir kinderkokke.

Volgens sy ma, Elzeth, was Ian kleintyd al doenig in die kombuis en was sy wens as vyfjarige om ’n menger as verjaardag-geskenk te kry.

Die Kokkedoortjies moes vandeesweek ’n heerlike toebroodjie vir hul terug-skool-toe-kosblik maak – die héél beste in die heelal.

Beoordelaar Mari-Louis Guy meen die kinderlikheid het in Ian se toebroodjie ontbreek. “In hierdie uitdaging was fantasie vir ons ontsettend belangrik,” sê sy.

Die broodjie wat Christian voorberei het, en waarmee hy as toebroodjie-koning aangewys is, was “fantasties”, sê beoordelaar Nic van Wyk – nie net omdat dit visuele trefkrag het nie, maar ook omdat dit die beoordelaars met ’n gevoel van nostalgie gelaat het.

Mari-Louis se kosblik-wenk vir ouers is om ’n houer te kies met verskeie holtes. “My kinders hou daarvan om met hulle oë te eet,” sê sy. Daarom word die holtes hier met rosyne en daar met iets anders gevul.

Nic meen dis belangrik om broodjies te maak waarby jou kind aanklank gaan vind – bly dus weg van geur-kombinasies waarvan net jy hou. “Hou dit eenvoudig,” sê hy.

Om te verhoed dat ’n kaas-en-tamatie-toebroodjie vinnig pap word, maak seker die tamatie is in die middel en die kaas buite óf pak die tamatie-snye apart in sodat jou kind tydens pouse dit self op die broodjie kan sit.

Mari-Louis maak haar drie kinders deel van die proses in die kombuis. Boonop kies sy interessante vorms, maar probeer dit steeds gesond hou. ’n Idee is om ’n “blommetjie” te maak, met witbrood buite en bruinbrood binne.

Kokkedoortjie is Woensdae om 20:00 op die kassie. Herhalings word Donderdae om 15:00, Vrydae om 11:00, Saterdae om 14:00, Maandae om 16:00 en Woensdae om 13:30 uitgesaai. Gesels saam op Facebook en Twitter (gebruik die hutsmerk #Kokkedoortjie) en hou ons Instagram-blad dop!