Logo

Fiëstas 2017: ’n Fees vir die sinne en kunste

Nuus
23 Februarie 2017
Die Fiëstas word regstreeks op 23 Februarie 2017 om 20:00 uitgedeel. kykNET se Karen Meiring deel haar boodskap.
#kykNETFiestas

kykNET is baie trots op die Fiëstas en op die groot rol wat hierdie toekennings oor die afgelope sewe jaar in die teater- en feestebedryf gespeel het. Die twee dae wat die benoemdes saam deurbring, is altyd ’n vrugbare, mededeelsame ontmoeting tussen feesbesture, kunstenaars en almal wat dit moontlik maak om produksies op die planke te bring.

Dis vir kykNET baie belangrik om toekomsgerig en pro-aktief ten opsigte van Afrikaanse inhoud te bly. Daarom staan die “k” in kykNET ook vir die koestering van ons kunstenaars, kreatiewe geeste en die kunstebedryf. Ons streef daarna om vir gehore en kykers altyd die beste te gee – of dit nou op die houtplanke van ’n skoolsaal is of op die mees tegnologies gevorderde digitale platform ter wêreld. Talent wil ons en sal ons aanhou ontgin en aanmoedig deur geleenthede vir blootstelling én erkenning te skep.

Fiëstas 2017: Hier is die benoemdes

Rolmodelle is van onskatbare waarde vir die bou van waardes in ons gemeenskappe. Ons bly dus immer dank verskuldig aan al die voorloperkunstenaars en -filantrope wat lank reeds voor die bestaan van kykNET, ’n bedryf gebou het sonder al die tegnologie en media-ondersteuning wat vandag tot ons beskikking is.

Vanjaar vereer ons drie uitsonderlike mense vir die blywende impak wat hul lewenswerk gemaak het: Alvon Collison, wat sekerlik dié Farao van Farao’s was en steeds talle gehore raak met sy energieke vertolkings en verhoogoptredes; Acáma Fick, die eerste vrouedirigent van die oudste universiteitskoor in die land, wat Suid-Afrikaanse koormusiek steeds laat gedy, en Ton Vosloo, wat in sy persoonlike hoedanigheid ’n toonbeeld is van noodsaaklike, passievolle filantropie vir die kunste.

’n Groot, hartlike dankie aan die kreatiewe spanne wat vanaand hierdie besonderse produksie, uit en deur die kunste vir die kunste, geskep het. Dié allemintige Fiëstas-verhoogproduksie is moontlik gemaak deur vier jong kunstenaars – Wolf Britz, Amy Jephta, Nico Scheepers en Steven van Wyk – wat hul fenomenale talente saamgesnoer het onder die virtuose leiding van Ian von Memerty en Janine Neethling. Saam het hierdie ou en nuwe hande ’n fees vir die sinne en kunste opgetoor.

Baie geluk aan al die benoemdes. Geniet hierdie Fiëstas saam met ons.

Karen Meiring
Direkteur: kykNET-kanale

Die tyd het aangebreek vir die kykNET Fiëstas 2017, wat op 23 Februarie om 20:00 regstreeks uitsaai – weens dié uitsending val vandeesweek se uitsending van Bravo! weg.