Logo

Boer Soek ’n Vrou: Seisoen 9 se boere groet

Nuus
13 Januarie 2017
In vandeesweek se episode van Boer Soek ’n Vrou het ons afskeid geneem van seisoen 9 se boere.
BSV 9 Ep13 Feature

In vandeesweek se episode van Boer Soek ’n Vrou het ons afskeid geneem van seisoen 9 se boere.

Johannes het alleen opgedaag. Hy sê vir Minki hy het intussen meer tyd op die plaas deurgebring. Hy sê Boer Soek ’n Vrou het hom meer selfvertroue gegee. “Ek hoop nie dit maak ’n mens windgat nie!”



Cornè en Pauline het harte gesteel by die vakansieweek en is vandag nog saam. Hulle kon mekaar nog nie weer sien nie, sê Pauline, so hulle vry maar oor die foon.

“Ons vat dit nou elke dag ’n stappie vorentoe,” sê die boer, wat volgens Pauline baie ondersteunend is en elke nou en dan darem ook romanties kan wees.



Hennie en Leon-Fritz is vandag sonder dames aan hul sy. “Ek dink wat ek nadese besef ek nodig het is ’n vrou wat my interesseer,” sê Leon-Fritz. Hy moet dalk minder “rigied” wees en meer met sy gevoel gaan, sê die boer.

Minki vra hom uit oor Hennie en Chantelle. Hy sê: “Die volgende oomblik toe hoor ek sy het ’n kêrel.”

Hennie sê: “Ek gun haar die wêreld se geluk”. Hy is nie spyt oor die keuses wat hy gemaak het nie, sê hy.



Wessel is vandag by die reünie saam met Melissa, wat vir hom geskryf het. “Ons het net maklik gekliek,” sê Melissa.

Hulle is net vriende, sê die boer, veral omdat die afstand dit moeilik maak, maar dis tog waar alle dinge begin.



Johan en Pieter het ook nog nie sukses gehad nie. Beide het al van die dames wat vir hulle geskryf het ontmoet, maar nog nie liefde gevind nie. Pieter sê daar is op hierdie stadium nie ’n “spark” nie, omdat hy presies weet waarna hy op soek is en nie iemand se tyd wil mors nie.

Johan vertel hy het iemand ontmoet, maar daar is nog niks “konkreet” nie. “Dit vat tyd,” sê hy.



Rob is ook alleen by die reünie, maar vertel vir Minki dat iemand, wat nie vir hom geskryf het nie, sy aandag getrek het. Een van sy vriende het hom aan ’n vrou in George voorgestel. “Ons is baie gemaklik bymekaar. Sy laat my rustig voel,” sê hy.



Arno en Jacobu is dalk vandag saam by die reünie, maar nie as ’n paartjie nie. “Ek het vir haar gesê sy tick al die boksies, maar ek het net nie daai verlief-gevoel gekry nie,” sê die boer.

Jacobu sê “dis nie lekker nie”, maar sy wou die naweek kom om hom weer te sien en afsluiting te kry.



Erhard is daar saam met sy Karoonooi, Tiekie. Sy is van Willowmore, so “binne vry-afstand” van die boer. Sy kén boonop sy omgewing en verstaan die uitdagings wat oor sy pad kom – om nie te praat van haar lekker kos nie!



Dan is dit tyd vir Minki om te groet: “Baie dankie vir elkeen van julle wat julle harte en julle lewens oopgemaak het vir my.”

Tot volgende keer!