Logo

Boer Soek ’n Vrou: Tien uit tien vir Minki!

Nuus
13 Januarie 2017
Die model en TV-aanbieder Minki Joubert het Boer Soek ’n Vrou-kykers se harte gesteel.
Minki Tien uit Tien

Die wêreld van Boer Soek ’n Vrou moet liefs nie sonder handskoene aangepak word nie. Nie net moet die aanbieder van dié werklikheidsreeks bereid wees om die land plat te reis en gemaklik voor die kameras wees nie, maar sy moet ook die boere bystaan op die plase en soms hard werk om werklik agter die kap van die byl te kom. Dís ons Minki, het kykers op sosiale media gesê.

Minki Joubert het sedert haar eerste verskyning as Boer Soek ’n Vrou-aanbieder in Oktober 2016 kykers se harte gewen. Dit was soms skreeusnaaks om te sien hoe sy met die boere kennis maak (wie kan nou haar opmerking oor “opregte koeie” vergeet?). Sy het verder posduif gespeel, sáám gegroet en ondersteuning gebied.

KYK: Minki was in trane toe Elizna Rob se plaas verlaat het.

“Minki weet net hoe!” het Annamie van Zyl op Facebook gesê.

“Minki, jy het diep in ons harte gekruip met Boer Soek ’n Vrou! Welgedaan… jy was soos ’n vars briesie vir ons!” het Alta Schutte laat hoor.

“Ek het gedink Minki was net ’n prikkelpop, maar sy het my anders oortuig,” het Erica Luyt gesê. “Sy lag saam, sy huil saam, sy wys sy gee om.”

Elsa le Roux het weer gesê: “Minki is pragtig en so natuurlik! Sy was ’n ster!”

Tien uit tien! is Anna Pheiffer se mening. Louise Roets het Minki bedank: “Dankie Minki vir die manier waarop jy jou aanbieding doen… Jy is net jouself. Jy het baie bygedra tot hierdie reeks se sukses!”

Michelle Engelbrecht het weer gesê sy hoop sy gaan meer van Minki te sien kry – en dít word inderdaad ’n waarheid.

Minki sprei haar vlerke op kykNET en sal vanaf hierdie maand ook ’n veldaanbieder vir die gewilde joernaalprogram Kwêla wees. Sy sal egter steeds Suid-Afrika se boere help om liefde te vind.