Logo

Tien uit tien vir Boer Soek ’n Vrou!

Nuus
20 Februarie 2017
Boer Soek ’n Vrou boer net vooruit en dit is vanjaar tyd vir die tiende seisoen van dié gewilde kykNET-werklikheidsreeks.
BSV 10 jaar

Boer Soek ’n Vrou vier vanjaar ’n dekade op televisie! Dié gewilde kykNET-werklikheidsreeks het sedert 2007 nie net een van die geliefste instellings op kykNET se programskedule geraak nie, maar ook een van die topreekse op DStv.

Die tiende seisoen beloof om groter en nóg beter as tevore te wees en wie weet – die boere-Kupido mag dalk net ’n verrassing of twee oplewer!

Van 20 Februarie 2017 tot 17 Maart 2017 kan boere of plaasbestuurders, manlik of vroulik en bo die ouderdom van 21, inskryf om deel te wees van die nuwe seisoen.

Om in te skryf

Inskrywings het reeds gesluit.

Meer inligting, sowel as bepalings en voorwaardes

Die Boer Soek ’n Vrou 10-seisoen sal bestaan uit 14 een uur lange episodes, voorafgegaan deur promosie-insetsels wat eers die boere en dan die potensiële metgeselle werf. Die televisiereeks sal uiteindelik die wel en wee van tien enkellopende boere volg in hul soeke na liefde. Aangesien Boer Soek ’n Vrou ’n werklikheidsreeks is, sal die gekose boere hulself beskikbaar moet stel vir opnames op die plaas wanneer dit die vervaardigers se skedule pas. Hulle sal ook van tyd tot tyd bereid moet wees om vir opnames (wat ’n paar dae mag duur) weg van die plaas af te reis.

Inskrywingsvorms moet ons voor middernag, 17 MAART 2017, per pos, e-pos of aanlyn bereik. Laat aansoeke sal nie oorweeg word nie.

Indien jy een van die 10 gekose boere is, sal ons jou voor 12 APRIL 2017 telefonies in kennis stel.

Kontak Annemarie by Lion’s Head Productions indien jy enige verdere inligting benodig by: 072 531 0797, of stuur vir haar e-pos na [email protected].

Indien jy inskryf, verklaar jy die volgende:

1. Jy is ’n Suid-Afrikaanse burger.
2. Jy aanvaar dat die reëls en bepalings van Boer Soek ’n Vrou 10 (die program), soos van tyd tot tyd neergelê sal word deur Lion’s Head Productions (die “vervaardiger”) en/of kykNET (die “uitsaaier”), bindend is en jy aanvaar dat die besluite van die vervaardiger/uitsaaier finaal is.
3. Jy aanvaar dat jou regte in terme van die Kopieregwet, wet 98 van 1978 (soos gewysig), toegewys word aan die vervaardiger/uitsaaier en dat jou volle deelname aan die program opgeneem en uitgesaai mag word en dat die regte op hierdie uitsendings in die toekoms aan die vervaardiger/uitsaaier behoort, wat jou toewysing aanvaar.
4. Jy verklaar dat al die inligting wat in jou aansoekvorm verskaf is, waar en korrek is en jy aanvaar dat jy gediskwalifiseer kan word as die teendeel blyk en dat die vervaardiger en/of uitsaaier die inligting in jou aansoekvorm in die program mag gebruik.
5. Jy verstaan dat die vervaardiger/uitsaaier nie aanspreeklik is vir enige verlies wat spruit uit jou inskrywing, of jou deelname aan enige aspek van die program nie.

Let daarop dat daar van jou verwag sal word om ’n volledige stel bepalings en voorwaardes te onderteken sou jy gekies word vir deelname aan Boer Soek ’n Vrou 10.

Minki se raad

Minki Joubert, wat weer die aanbieder gaan wees, se raad aan boere wat wil inskryf is dat hulle net hulself moet wees. “Volg jou hart, nie jou kop nie, want die liefde wen altyd,” sê sy.

“Enige iemand hou daarvan om te sien hoe iemand anders liefde vind en dit gee baie mense nuwe hoop, terwyl dit jouself kan herinner toe jy die ware liefde ervaar het,” sê Minki oor die sukses van Boer Soek ’n Vrou.

Groter, beter, Boer!

Nóg goeie nuus is dat kykNET geluister het na die talle versoeke oor hoe dit met van die vorige deelnemers gaan en hoe die liefde hulle oor die jare sedert hul deename behandel het.

Die tiende seisoen gaan dus drie episodes bykry, wat ’n terugblik gaan gee oor die vorige nege seisoene en waar van die deelnemers hulself in 2017 bevind.

Boer Soek ’n Vrou sal vanaf Oktober 2017 op kykNET uitgesaai word.