Logo

Kokkedoortjie: Die avontuurlik kosblik

Nuus
21 April 2017
Dié broodjie is geïnspireer deur die Viëtnamese baguette-slaaibroodjie bánh mì.
Kokkedoortjie Bahn Mi

FOTO: Ian du Toit

Hierdie week het die Kokkedoortjies super-kosblikke gepak met super-doeper toebroodjies. Christian het groot gegaan met ’n ronde foccacia, Edwin het brood soos soesji gerol en Mia het haar kosblik met Marokkaanse geure en naanbrood gevul.

Vir iets anders in die kosblik gaan Errieda du Toit, ’n inhoudsvervaardiger van die reeks, se toebroodjiereis ’n baguette inspan. Die idee vir die frikkadel-baguette kom uit Asië, maar die boerewors-vleisfrikkadelle maak dit pure Suid-Afrika.

Die kombinasie van die brood se vulsellae – vleis, kraakvars slaaibestanddele en soet-suur-sout-smake – gaan ’n A+ kry by alle toebroodjie-liefhebbers. Die broodjie is geïnspireer deur die Viëtnamese baguette-slaaibroodjie bánh mì, ’n baie gewilde straatkos wat jy sommer in die loop kan eet. Moenie dit aframmel nie – elke laag dien ’n doel.  

Hier is die resep:

Wortel-radysslaai-laag

Maak eers die wortel-radysslaai-laag sodat dit kan staan terwyl jy die frikkadelle maak. Komkommer werk ook, maar het nie die krakerigheid wat mens soek in hierdie toebroodjie nie. Sit dan liefs repe komkommer apart op jou bánh mì.

2 medium geelwortels, in stokkies gesny (julienne)
250 g radys, in stokkies
30 ml suiker
2,5 ml sout
45 appelasyn (‘cider vinegar’)
10 ml sesamolie
Meng die geelwortels en radys in ’n bak. Roer die res van die bestanddele by en laat staan ’n uur.

Boerewors-frikkadelle (genoeg vir 4 ruim porsies)

Verwyder die vel van sowat 400 g boerewors, knyp stukkies wors af en rol met klam hande in bolletjies. Verhit 15 ml kookolie in ’n pan en braai die frikkadelletjies tot dit goudbruin en gaar is.

As jy egter jou eie frikkadelletjie-vleis wil maak soos die Viëtnamese dit doen, hier is ’n tradisionele resep:

Varkvleis-frikkadeletjies

400 g gemaalde varkvleis
30 ml gekapte kruie
1 gekapte sprietui
3 gemaalde knoffelhuisies
15 ml vissous,
10 ml ‘hot sauce’ soos Sriracha of paar spatsels Tabasco
10 ml suiker
Sout en peper
15 ml mielieblom
Olie vir braai
Meng die varkmaalvleis met die kruie, sprietui, gemaalde knoffel, vissous, die ‘hot’-sous, suiker, sout en peper. Voeg mielieblom by en vorm klein frikkadelle. Verkoel 20-30 minute en braai in ’n bietjie olie tot gaar en bruin.

Sit jou frikkadelbroodjie (bánh mì) aanmekaar:

Sny die baguette in 4 stukke, en smeer die brood binne met mayonnaise, gegeur met Sriracha of Tabasco. Verdeel die gaar frikkadelle en die wortelslaai tussen die 4 stukke baguette. Rond af met gesnyde brandrissies (opsioneel) en koljanderblare of met basielkruid en kruisement.

Wenke:

Maak die baguette effe warm vir ’n ekstra bros sensasie.
Jy kan ook oorskiet-rotisseriehoender, bobotie, koue skaapboud of hoenderpatee gebruik.

Kokkedoortjie is Woensdae om 20:00 op die kassie. Herhalings word Donderdae om 15:00, Vrydae om 11:00, Saterdae om 14:00, Maandae om 16:00 en Woensdae om 13:30 uitgesaai. Gesels saam op Facebook en Twitter (gebruik die hutsmerk #Kokkedoortjie) en hou ons Instagram-blad dop!