Logo

Kokkedoortjie: Ontbyt wat nie wag nie

Nuus
12 April 2017
Ontbyt is nie iets wat altyd op tyd gebeur nie. Die Kokkedoortjie-beoordelaars deel hul raad.
Kokkedoortjie Slim Ontbyt

FOTO: Mia se bros eiernessies

Dié week se uitdaging in die Kokkedoortjie-stoor – die eerste keer wat ons jong deelnemers die kospotte voor die kameras laat prut het – was ontbyt.

Die Kokkedoortjies moes buite die boks, oftewel buite die holtes in ’n muffinpannetjie dink, om vier ontbythappies – ’n soort “eiernessie” – vir die beoordelaars voor te sit.

“Geposjeerde eiers is seker een van die slimste goed wat jy kan maak,” sê beoordelaar Mari-Louis. “Dis altyd asof mense dink dis verskriklik moeilik om te maak.”

Haar raad is om geposjeerde eiers op ’n papierhanddoek in die yskas te hou en dan net weer in warm water te plaas voor dit opgedien moet word.

Die Kokkedoortjie Mia het haar geposjeerde eiers met krummels oorgetrek en gediepbraai, en sy is weens dié oulike idee en die suksesvolle uitvoering daarvan as episode-wenner aangewys.

Omdat ontbyt nie altyd op tyd gebeur nie (soms is jou gaste nie betyds nie), is beoordelaar Nic van Wyk se raad om te dink aan disse wat ’n tydjie kan staan of koud bedien kan word, soos ’n frittata (iets tussen ’n omelet en korslose quiche).

Nic het ook ’n baie lekker wenk vir kykers: As jy ’n hollandaise-sous vooraf maak, “hou dit warm in ’n koffiefles”. Só kan jy dit vir so lank as 3 ure warm hou!

Kokkedoortjie is Woensdae om 20:00 op die kassie. Herhalings word Donderdae om 15:00, Vrydae om 11:00, Saterdae om 14:00, Maandae om 16:00 en Woensdae om 13:30 uitgesaai. Gesels saam op Facebook en Twitter (gebruik die hutsmerk #Kokkedoortjie) en hou ons Instagram-blad dop!