Logo

Joshua na die Reën: Die Wêreld Binne My

Nuus
04 Februarie 2017
Kyk hier na die musiekvideo vir Joshua na die Reën se liedjie “Die Wêreld Binne My”.
JNDR DWBM

Joshua na die Reën se splinternuwe musiekvideo vir sy liedjie “Die Wêreld Binne My” is eksklusief tydens ’n uitsending van Top 20 gedeel.

“Ek is gebou, jy is gebou en die wêreld binne my is in afwagting oor jou. Kom hardloop deur my woude, kom swem hier in my see. Wees somer oor my berge, want dis hier waar jy regeer - ek in jou en jy in my...” is lirieke uit Joshua na die Reën se liedjie, “Die Wêreld Binne My”, wat in 2016 vrygestel is as titelsnit van hierdie bekroonde musikant se tweede album.

Die liedjie, wat eie is aan die unieke kontemporêre klank waarvoor Joshua na die Reën bekendheid en talle toekennings verwerf het, is ’n mengsel van roerende lewenswaarhede en aangrypende melodieë. Dit was uit die staanspoor gewild en is onlangs aangewys as GrootFm se Grootste Treffer vir 2016.

Kyk die video hier onder:



“Die beste verstaan wat ek van die lewe het, is dat elkeen van ons op verskillende maniere in jare grootword. Dit bepaal hoe ons voel, hoe ons leef, hoe ons na verskillende dinge kyk en dit dan probeer verstaan. Dit alles skep ’n wêreld binne elke mens op aarde, elkeen wat al ooit geleef het en ooit sal lewe. Ek dink ’n groot fout wat ons, as mensdom, gemaak het deur die eeue was om mekaar se wêrelde te oordeel en dit in klasse te plaas.

“Die boodskap agter die liedjie is dat almal se wêreld gelyk is en dat almal se siening oor die lewe van waarde is. Ek glo dat as ons die wêreld so begin benader, ons werklik die mooi in die lewe sal raaksien! Want ek glo dit is wat God droom. Hy wil hê dat die mensdom in eenheid en vrede moet leef, ten spyte van verskille,” vertel hy.

Omdat “Die Wêreld Binne My” die sanger so na aan die hart lê, wou hy iets baie spesiaal doen om die boodskap op ’n treffende manier op die skerm vas te vang. “Ek wou die kontras van verskillende dele van die wêreld binne en buite ons vasvang, daarom is daar verskillende ongerepte natuurelemente gebruik - nat, droog, berge, vlaktes, sterre, water, ensovoorts.

“Dit is moeilik om die komplekse wêreld binne ons te skets, maar ek hoop ten minstens dat die video mense sal laat besef dat daar bitter mooi dinge binne en buite ons aangaan,” verklap die sanger oor die idee agter die video.

Die video, wat deur Daville Films & Photography vervaardig is, is in November en Desember geskiet in verskillende dele van Murraysburg, Magoebaskloof en Kleinmond. “Die plekke waar die video geskiet is, is plekke wat ek ontdek het deur te reis. Hierdie plekke het met my gepraat en ek moes net die video daar gaan skiet! Daar is nog baie sulke plekke.

“My broer (die groep se dromspeler) en sy span – Jaen Kleynhans, Japie Kruger en Gustav Reynecke – het die musiekvideo vervaardig en het laat aande en die vroeë oggende in die Karoo trotseer om die bewegende sterre af te neem vir die tonele onder die sterrehemel. Dit was regtig ’n groot voorreg om saam met hulle aan hierdie projek te werk.”

“Die Wêreld Binne My” se musiekvideo kry dit reg om die hoendervleismooi kombinasie van die sanger se fluweelstem en die meesleurende klank van die instrumente te verweef met natuurtonele wat jou asem sal wegslaan. Die eindresultaat is so treffend dat dit aanhangers se harte weer opnuut sal verower.

Hier is ’n paar agter-die-skerms-foto’s: